Was aangebied deur DPK, in samewerking met die US Woordfees, kykNET, Die Burger en Beyerskloof:
Vir die eerste keer by die Woordfees: van Suid-Afrika se mees gesogte kunstenaars in splinternuwe kombinasies en produksies! ‘n Marathon-reeks onvergeetlike aande van musiek, klank en woorde op die dek van Beyerskloof – een van Stellenbosch se gunsteling-wynplase. Met heerlike wyne, ’n gesellige, intieme atmosfeer en ’n asemrowende uitsig.
Kliek hier vir 2010 se fotos. Videos is ook op pad.
KOOS & KENNEDY
Koos Kombuis en Hunter Kennedy: twee rewolusionêre Afrikaanse liedjieskrywers, meesters van eiesoortige musiek wat uitstaan, protesteer, bevraagteken en mense oor generasies heen aanspreek. Uit verskillende genres en eras, deel hulle hier vir die eerste keer ’n verhoog in ’n intieme atmosfeer.
3 Maart 19:00 ● Beyerskloof ● 90min ● R120
KLANKDIG
Met Jack Parow, Danie Marais, The Orange Stilletos, Ronelda S Kamfer, Andries Bezuidenhout, Die Kaalkop Waarheid, Aanklank, Hanru Niemand en The Black Cat Bones.
‘n Opwindende mengelmoes van digkuns en akoestiese rock-musiek, voorgedra en opgevoer deur van die land se mees befaamde kunstenaars asook interessante nuwelinge. Klankdig, wat “beat-poetry” eggo, trou woordkuns en musiek op ‘n kontemporêre wyse. In samewerking met Beyerskloof beloof hierdie Trouvrou - en DPK produksie om ‘n heerlike versnit op te lewer. Daar’s ook lekkernye en wyn!
4 Maart 19:00 ● Beyerskloof ● 90min ● R120
ZINKPLAAT & TIDAL WAVES
Dié twee uiteenlopende musiekgroepe het baie meer gemeen as wat mens met die eerste oog- of ooropslag sal dink. Hulle paaie het al ’n paar keer gekruis. Na die gesamentlike optrede tydens Die Ubuntoer in 2008 was ’n reggae-, blues- en rock-byeenkoms onvermydelik. Nou word die plan eindelik uitgevoer wanneer die Gautengse reggae-meesters en Stellenbosch se gunsteling-Afrikaanse rockers hul unieke klanke byeenbring.
5 Maart 19:00 ● Beyerskloof ● 90min ● R120
BLUES & SUSTERS
Met Anna Davel, Ollie Viljoen, Schalk Joubert, Lou-Ann Stone en Kevin Gibson.
Hierdie vertoning wil jazz en blues van volksvreemd na volkseie verander deur dit op ’n splinternuwe manier bekend te stel. Die ongelooflike eenheid tussen musikante en instrumente maak hierdie produksie onvergeetlik.
6 Maart 19:00 ● Beyerskloof ● 60min ● R120
Kaartjies beskikbaar op Computicket.
Weekkaartjies (vir die volle marathon) kos R400 en kan bespreek word by alette@dpk.co.za. Dit sluit ook ‘n getekende bottel Beyerskloof Pinotage in.
Foto van Hunter Kennedy geneem deur Liam Lynch
